Om môre kos te hê …

Geliasieer onder: My Storie |

In ’n pleidooi voor die vergadering van die NG Kerk se onlangse Algemene Sinode het dr Arnau van Wyngaard van Shiselweni Homebased Care op ’n nugter dog roerende wyse na die hongersnood in Swaziland verwys. ’n Daaglikse werklikheid vir duisende van dié land se inwoners, het hy gesê. CONETTE LE ROUX het meer gaan uitvind.

Gesinne wat op minder as R5 per dag moet oorleef. Wat teen 17:00 reeds gaan slaap, omdat dit ál manier is hoe hulle van die hongerpyne kan vergeet. Ouers wat saans met net één wens gaan slaap: om môre kos te hê om hulle kinders te voed. Dit is die daaglikse werklikheid in een van Suid-Afrika se oostelike buurlande.

“Dit is mense dié wat nie eintlik omgee of die NG Kerk die Belydenis van Belhar aanvaar of nié.” Met hierdie woorde het dr Arnau van Wyngaard, hoof uitvoerende beampte van Shiselweni Homebased Care (SHBC) in Swaziland en leraar by die Swaziland Reformed Church, die sinodegangers by die onlangse Algemene Sinode diep geraak. Hierna het die afgevaardigdes besluit om vir hulle (gratis) middagete te “betaal” – en só ongeveer R12 300 vir die Shiselweni-projek ingesamel.

Christus se hande en voete In 2005 het dr Van Wyngaard en sy gemeente besluit om “die hande en voete van Christus in die gemeenskappe wat die kerk omring” te word. Dit sou hulle deur middel van ’n tuisversorgingsprogram wou regkry. Geen maklike taak in ’n land waar 70% van die bevolking in uiterste armoede leef nie. En waar 26% van die volwasse bevolking MIV-positief is (die hoogste voorkomssyfer in die wêreld) nie. Aanvanklik is daar 32 vrywilligers opgelei om mense wat liefde en ondersteuning benodig te kon bystaan.

Hoewel die meeste van laasgenoemde vroue en kinders is, is geslag en geloof geensins bepalend vir wie hulp ontvang nie. Vandag is daar meer as 1 000 vrywilligers wat uit die gemeenskap kom, en wat opgelei is in die kritiese aspekte van die tuisversorging van MIV-positiewe mense. Sonder enige vergoeding word daar só aan sowat 4 000 Swazi’s ondersteuning gebied. Die projek beskik ook nou oor ’n sentrum vir vroeë-kinderontwikkeling, vertel dr Van Wyngaard. “Hier ontvang 35 kinders én 197 wees- en weerlose kinders daagliks ’n gebalanseerde maaltyd – wat vir baie die enigste ordentlike kos is wat hulle ooit kry.”

Volgens dr Van Wyngaard het die Shiselweni-projek tot dusver ’n reuse-verskil in die bestryding van MIV gemaak. “Die sterftesyfer onder die mense wat deur ons ondersteun word, het drasties gedaal – vanaf 35,3% in 2008 tot 11,7% in 2012. Deur die uitdagings en die stigmas te oorkom, het die SHBC-vrywilligers die lede van die gemeenskap oorgehaal om hulle vir MIV te laat toets. Indien hulle MIV-positief is, moedig die vrywilligers die betrokkenes aan om anti-retrovirale medikasie (ARV’s) te gebruik.”

Maar ten spyte van die groot verskil wat hierdie projek reeds maak, het die hoë voorkoms van MIV tot gevolg dat gesinne en families verwoes word. “Duisende vroue – wat voorheen finansieel op hulle mans gesteun het om vir hulle kinders te sorg – word nou gedwing om na hulle kinders en sterwende man om te sien,” vertel dr Van Wyngaard. “Oumas – wat hulle gereed gemaak het om op hulle oudag net met hulle kleinkinders te speel – het nou hulle primêre versorger geword.”

Die oplossing: Kos. En nóg kos In die hartjie van Shiselweni woon Shorty Khumalo (59) – dr Van Wyngaard se regterhand en die afgelope agt jaar SHBC se hoofbedryfsbeampte. Vra jy haar uit oor haar grootste uitdagings hier, antwoord sy: “Dit is moeilik om iemand te oortuig om medisyne op ’n leë maag te drink.” Sy sê: “Jy sal sleg voel as jy ’n pynpil op ’n leë maag drink – ARV’s op ’n leë maag maak jou báie siek. Sommiges sê dit voel asof jy skeermeslemmetjies sluk. Daarom hou baie pasiënte hier op om hulle ARV’s te drink – en hulle sterf.”

Ook Shorty – wat op weeksdae in die Swaziland Reformed Church se sopkombuis werk – bekommer haar oor waar haar naweek se bord kos vandaan gaan kom. Vir haarself ja, maar veral ook vir die vier weeskinders vir wie sy sorg. “Weeksdae gee ek aan die vier kinders – wie se primêre versorger hulle 90-jarige ouma is – kos uit die sopkombuis. Maar ek bid elke dag dat God ons oor die naweke sal help …”

Dr Van Wyngaard het in sy toespraak by die Algemene Sinode die Swazi-mense se behoeftes op ’n eenvoudige wyse verwoord: “Uit onlangse onderhoude met 79 ontvangers van ons versorging het dit geblyk dat álmal dieselfde behoefte het – kos, kos en nogmaals kos.”

Kinders móét eet! Shorty vertel hoe sy, wanneer sy nie naweke by die sopkombuis is nie, aan haar eie kinders geld gee om vir die weerlose kinders wat kom inloer ’n bietjie melk of ’n ietsie te ete te gee. “Gelukkig gee my drie kinders ook om vir ander,” sê sy. “My skoonseun sê gewoonlik: ‘Gee vir die kinders óns kos; ons is oud en het nie nodig om te eet nie. Maar kinders móét eet!”

SHBC-vrywilligers ontvang nie ’n salaris nie. As “betaling” kry hulle ’n kospakkie wat hulle met diegene na wie hulle omsien kan deel. Dr Van Wyngaard vertel hoe welwillende sakemense in Swaziland voedsel teen kosprys aan hulle verskaf. “Nou wil die SHBC graag 1 000 Christene en gemeentes regoor Suid-Afrika mobiliseer om elk minstens een vrywilliger ‘aan te neem’. Teen R250 per maand (een eenvoudige ete by die Spur!) kan so ’n borg nie net ’n ordentlike kospakkie by ’n vrywilliger besorg nie, maar ook basiese medisyne om ’n sieke te versorg.”

Shorty Khumalo se pleidooi aan Kerkbode-lesers: “Ons grootste behoefte is kos. Help ons asseblief! Ons doen wat ons doen omdat ons glo dat Jesus dit sou doen.” Kerkbode-lesers kan dit oorweeg om ’n SHBC-vrywilliger te borg.

Gaan lees meer by www.shbcare.org of skakel dr Van Wyngaard by 082 924 5632.

Los Boodskap

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <strike> <strong>